| Getuienisse / Testimonies |
|
|
|
Bladsy 1 van 5 0.1. Kinders op Hazy Mount
Hetty Rose-Junius is 'n maatskaplike werker in Namibië en is ook naweekboer. Wanneer sy op die plaas kom, gee sy aandag aan die mense op die plaas. Sy skryf: "Die groepie skoolkinders het lanklaas ontmoet, omdat hul skool op die plaas toegemaak, en hulle na 'n ander skool verhuis het. Gedurende die onlangse skoolvakansie (Augustus/September 2009) kon ek 'n paar dae op die plaas bly, en het ons weer bymekaar gekom. Daar was 16 kinders van voorskoolse ouderdom tot Graad 10's teenwoordig. Ons het eers saamgebid en dankie gesê dat ons weer mekaar kon sien. Toe het ons die geestelike programmetjie hanteer. Ek het die Barmhartige Samaritaan as tema gekies. Hulle het gretig aangedui dat die derde persoon wat die beseerde man gehelp het, Jesus se opdrag uitgevoer het en dat ons hoeders (oppassers) van mekaar is. Toe vou ons weer handjies om dankie te sê vir iets om te eet, voordat die opvoedkundige program begin het. Hulle moes eers sing, en dit is altyd 'n lekkerte om hulle te sien wieg en hande klap al verstaan ek nie Nama nie. Daar is altyd 'n voorsanger wat die sang lei en die ander volg in verskillende stemme. Ons leer ook koortjies aan. Die ouer kinders het Engelse woorde gekry om in Afrikaans te vertaal, terwyl die kleintjies hulle oral op die matte tuisgemaak het om in te kleur. Hulle kon kleure leer onderskei, en ook tel hoeveel balonne elk gekry het om in te kleur. Dit was 'n hele bedrywigheid, terwyl ek besig gehou was met versoeke om te kyk en kommentaar te lewer. Nadat ek die woorde nagesien het en bemoedig het deur mooi opmerkings te skryf, het ons weer in die groep oor die beskerming van plaasdiere, Jesus se diere, gepraat. Ook persoonlike higiëne het 'n bietjie aandag gekry. Ons het beplan om weer einde van die maand oor die naweek te ontmoet, en versorging van tande, hare en naels sal deel van die program uitmaak. By daardie geleentheid sal ek weer 'n keer die Woordelose Boekie prente uitpak, en gaan ons ook begin beplan vir ons Kersopvoering aan die einde van die jaar." |